Geskiedenis van die skool

Die beginjare

Nadat Kroondal in 1889 gestig is, het die afgetrede sendeling Backeberg die paar kinders in die gemeenskap begin onderrig. Die Kroondal Skool is op 6 April 1892 geopen. Jakob Hoek, ʼn bekwame Hollander, wat Duits vlot kon praat, het 13 skoliere in ʼn nuwe hartebeeshuisie onderrig. Hoek het na net een jaar verdrink in ʼn poging, om te perd die Hexrivier, wat in vloed was, oor te steek. Sy graf is die eerste een op ons Kroondalse begraafplaas.

Hoek word opgevolg deur Piccard en daarna Wuttig.

In 1898 is die eerste skoolgebou opgerig (dieselfde klaskamer, wat vandag as die Graad R klas gebruik word), met Eduard Penzhorn as hoof. Dié skoolgebou is tydens die Boereoorlog totaal verwoes. Die Kroondalers was gedwing, om in Pretoria te bly, waar die kinders in verskillende skole onderrig ontvang het.

Na die Boereoorlog is die skool herbou en einde 1902 kon skoolbedrywighede weer begin. In 1904 is die Skoolvereniging gestig en die skoolkoshuis (Kinderheim) gebou. Pastor Johannes von Zwietring en sy vrou Anna was vir 45 jaar koshuisouers.

Die koshuis was selfonderhoudend; met hoenders, varke, koeie, beeste en ʼn groentetuin teenaan die Hexrivier. Onkel en Tante, soos almal hul genoem het, het met vlyt en dissipline die onderneming voorgestaan. Kinders het smiddae, na studietyd, flink in die tuin gewerk.

In 1908 is ʼn huis vir ʼn onderwyser gebou. Dit is later as Pastorie gebruik.

In 1916 word Johannes von Zwietring ook Pastor van die Kroondalse gemeente.

Met Eduard Penzhorn as hoof, groei die skool van 30 skoliere in 1910, na 60 skoliere in 1916. Eduard Penzhorn was bekwaam, fluks en gewild. In 1918 sterf onderwyser Eduard Penzhorn op 38-jarige ouderdom as ʼn slagoffer van die groot griep.

Gedurende die volgende 8 jaar het 5 onderwysers gekom en gegaan.

In 1922 is ʼn tweede skoolgebou met twee klaskamers gebou (waar die parkeerarea vandag is). Toe die nuwe skool later gebou is, moes hierdie gebou afgebreek word.

Tobias Wenhold 1926 – 1967

In 1926 is Tobias Wenhold gevra, om sy studies te onderbreek, om in sy tuisdorpie skoolhoof te word. Tobias Wenhold was ʼn baie goeie onderwyser. Sy skoliere het hom respekteer en hulle was lief vir hom. Hy het elke taak met ywer, oortuiging en idealisme aangepak. Hy was bekend as orrelis in die kerk, spreker by menige feestelike geleentheid en dat hy goeie notules kon skryf. Anna Schepmann is as gradejuffrou aangestel. Die kinders het uitstekende onderrig ontvang.

Nadat die skoolklok in die oggend gelui het, het die skoliere in twee lang rye aangetree, seuns en dogters apart. Die kortste kind het voor in die ry gestaan, en die langste een agter. Daarna het die rye ordelik klaskamer toe beweeg vir die skriflesing en gebed.

Gedurende hierdie tyd was daar nog geen formele skooldrag nie en kinders het kaalvoet geloop. ‘n Netjiese, skoon voorkoms was egter steeds toepaslik. Voordat die onderrig by klas 1 en 2 kon begin, moes die kinders skoon naels, nek, ore en sakdoek aan Fräulein Schepmann wys. Sy het die kleintjies 40 jaar lank liefdevol onderrig.

Kinders het te voet of met ʼn fiets of met ‘n perdekar skool toe gekom, dus is ‘n kamp op die skoolterrein ingerig, waar die diere bedags kon wei.

Na die 2de wêreldoorlog is verskeie onderwysers uit Duitsland periodiek aangestel: Woehler, Dr. Haller, Dörr en Diefenbacher.

In 1952 is die nuwe skool gebou. Die aantal skoliere het gewissel van 40 tot 60 en teen 1957 was daar 100 skoliere in die skool.

In 1954 is Dolly Wehrmann as onderwyseres aangestel. Sy het 24 jaar aangebly.

In 1963 kom Thormut Schreiber uit Duitsland, hy was vir 3 jaar ʼn onderwyser aan die skool.

In 1965 is die sementtennisbane by die koshuis gebou. Die skool het vir een baan betaal en die ander drie is deur die tennisklub finansier. Op Dinsdae het skoolma’s die kinders tennisklasse gegee.

Fritz Scriba 1967 – 1997

In 1967 word Fritz Scriba as skoolhoof aangestel. Hy was jonk, energiek, fluks, spaarsaam, stiptelik op tyd en kon baie goed organiseer. Veral sy klasse in die natuurwetenskappe was baie interessant. Hy het dikwels self toneelstukke geskryf, baie keer in versvorm, en ook vir historiese gemeente feestelikhede. Hy word onthou vir sy unieke dekor vir die skoolkonserte, waar elke kind ʼn rol gekry het.

Saam met Greti Meyer is verskeie operettes opgevoer. Fotografie was sy stokperdjie. Vir omgewingsleer het hy meer as 1,000 foto’s van die geskiedenis van Kroondal op groot plakkate geplak en byskrifte geskryf. Hy het ook interessante fotoalbums van die skoliere gemaak. Sy sketse en humoristiese foto’s as advertensie vir die basaar is onvergete. Die vrolike varkies op ons huidige embleem vir ons basaar, is deur hom ontwerp.

As twee seuns op die skoolgrond ʼn ernstige geveg begin het, het die skoliere ʼn kring om hulle gevorm en nuuskierig die petalje dopgehou. Na ʼn ruk het Fritz Scriba met ʼn tuinslang gekom en die twee met water bespuit, totdat hulle woede afgekoel was.

In hierdie tyd toon die skool goeie groei, ‘n formele skooldrag word gekies, en die personeel bestaan uit ‘n skoolhoof (Fritz Scriba) en 4 onderwyseresse naamlik: Renate Frey, Elisabeth Scriba (vir 38 jaar), Waltraut Müller en Mary Miller was vir langer as 10 jaar aan die skool verbonde.

In 1967 is die swembad gebou, waar ma’s swemlesse aangebied het.

Ook atletiek het in hierdie tyd gewild geraak in Kroondal, wat die jaarlikse sportbyeenkoms as ‘n instelling gevestig het. Edith Ottermann was ʼn puik atleet. In 200m en 400m wedloop het sy die S.A. span gehaal. Die kompeterende wedywering tussen die Franken en Sachsen staan vandag nog.

In 1968 begin die gewilde “Dreieckslauf” (landloop).

In 1970 het die skool uiteindelik kragaansluiting gekry.

In 1974 was daar 120 skoliere in die skool.

In 1976 is die nuwe saal gebou.

In 1979 is by die skool aangebou. Moderne toilette is gebou. Die geriewe op die wesgrens van die skoolterrein, met hul spinnerakke en perdebyneste, was nou iets van die verlede.

In 1984 kry die skool ʼn telefoon.

In 1988 word ʼn pakkamer aan die westekant van die skool gebou.

Die Spatzennest

In 1984 word ʼn gedeelte van die koshuis, – wat tans die Gasthof is – die seunskamer omskep in ‘n kleuterskool en so word die “Spatzennest” gebore.

Die kleuterskool word behartig deur Ortrud Penzhorn. Daarna volg Gisela de Wet, tot en met 1989. Gisela word in 1999 opgevolg deur Ilse Lundie, wat tans by die Naskoolsentrum betrokke is.

Op die eerste skooldag, lui Ortrud se registerinskrywing as volg: “Kinders aanwesig:  Thomas Scriba, Francois Taljaard, Helga und Waldo Wenhold, Natasha und Martina Krobath, Theo und Christoph Meyer, Friedel de Wet, Siegfried van Vuuren”

Dit is spesiaal, dat jong familielede van hierdie groepie kinders, vandag nog deel uitmaak van die DSK se familie.

In 1997 tree Fritz Scriba na 33 jaar vroeg af weens gesondheidsredes.

Dr. Thomas Rößner word skoolhoof vanaf 1998 – 1999.

In 2000 neem Boris Uwe Mohr die leisels oor vir een kwartaal.

Daarna het Jutta Herrmann die uitdaging aanvaar. Mev Herrmann tree in 2018 af, waar sy haar loopbaan as hoof van die skool op ‘n hoë noot afsluit.

Mnr Phillip Heynecke neem kortstondig by haar oor, waarna hy ‘n betrekking elders aanvaar. Die skool kry in hierdie tyd ‘n nuwe baadjie. Die skooldrag word gemoderniseer, sonder om gemak in te boet, sodat ons leerders gemaklik kan speel. Die skool se embleem word nuut gemaak en ons kry selfs ‘n vlag.

In 2021 aanvaar Mev Crystelle Marais die betrekking as skoolhoof van die Deutsche Schule Kroondal.

Die Nuwe Spatzennest

Tot en met November 2004 was die Spatzennest steeds vanuit die Kinderheim se seunskamer bedryf. Die hoeksteen van die nuwe Spatzennest, op die skoolterrein, is in November 2004 deur Ds. Victor Röhrs gelê. Die bybelvers op die hoeksteen is: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” Die Spatzennest toon vandag nog groei en elke paar jaar word ‘n nuwe bouprojek ingespan, om ruimte te maak vir nuwe maats. ‘n Klein kleuterskool met 28 kinders groei tot ‘n volwaardige kleuterskool met ‘n vol Graad R klas. Die eerste, oorspronklike skoolgebou word ingerig as die Graad R klas. Die gebou is ‘n nasionale gedenkwaardigheid en word deur die Deutsche Schule Kroondal instand gehou.

Die Naskool Sentrum

In 2008 vestig Henriëtte Ferns ‘n naskool sentrum by die Deutsche Schule Kroondal, met slegs 4 – 7 maats was dit voorwaar ‘n klein begin. In 2010 neem Michelle Smit by die naskool sentrum oor. Intussen het ons egter so uitgebrei, dat Ilse Lundie ook nou deel is van die span.

Vervoer van die skoliere

Vanaf 1968 het Akke Springhorn die kinders, wat in Rustenburg gewoon het, vir 8 jaar lank skool toe en terug vervoer. Daarna het Waltraut Müller met haar kombi die kinders aangery. In 1984 koop die skool, met ondersteuning van die “Karneval”, ʼn tweedehandse Mercedes bus van die Duitse Skool Pretoria. Met sy blou kleur en goue koringare was dit ʼn bekende gesig in die omgewing. Die bestuurders was in volgorde: Gudrun Krüger, Fritz Scriba, Hanne Mahnecke, Hannes van Zyl en Manfred Suhr. In die oggende het die bus RHS skoliere dorp toe gery en op pad terug Kroondal skoliere en Spatzen na die Kroondal skool gebring. Namiddag was dit andersom. Eenkeer het die skoliere die bussie uitgedaag, om teen hulle tou te trek. Die bus het net-net gewen.

Duitse Onderwysers

Die skoolraad het onderwysers uit Duitsland gewerf. In volgorde: Peter Grosse, Dieter Faulhaber, Edeltraud Raitzsch, Angelika Schindel (met haar groot herdershond) en daarna Antje Penzhorn. Sy is met ʼn boer van Kroondal getroud en het vir 21½ jaar die vak Duits onderrig.

Omdat die getal skoliere afgeneem het, moes die skoolkoshuis gesluit word en die “Gasthof” het in 1992 ontstaan. Betz en Erich Wenhold het die bestuur met entoesiasme aangepak.

In 1992 word ʼn rekenaarsentrum in die kelder van die saal ingerig. Birgit Lypke en later Margie Albers het die kinders touwys gemaak.

Koshuisouers

Na die 45 jaar diens van die von Zwietrings het die koshuisouers dikwels gewissel:

  • Herr & Frau Dörr 1950 – 1951
  • Ted & Helene Harms 1952 – 1959
  • Lieschen Wenhold & Maus Straeuli 1960 – 1962
  • Helga & Thormut Schreiber 1963 – 1965
  • Fritz & Carmen Scriba 1966 – 1968
  • Peter Grosse & sy vrou 1969 – 1970
  • Ilse & Werner Harms 1971
  • Dieter Faulhaber & sy vrou 1972 – 1974
  • Heinrich & Gertrud Müller 1975 – 1983
  • Karin & Richard Niehaus 1984
  • Marie & Hilko von Zwietring 1985 – 1987
  • Annatjie & Theo Meyer 1987 – 1991

Dominees

Na Onkel von Zwietring is die godsdiensonderrig altyd waargeneem deur die dominee van ons gemeente.

Finansies

Sedert die ontstaan van die skool was bekwame persone, wat met oorgawe en getrouheid gedien het, in die beheerliggaam. Die finansies was maar altyd ʼn kopseer. Ondersteuning van die regering en vanuit Duitsland was wisselvallig. Deur eie insette is fondse ingesamel. Van 1925 tot 1965 is dikwels basare ten gunste van die skool gehou. In 1952 het die Merensky Trust ʼn bydrae gelewer. Sedert 1965 word ʼn gemeenskaplike basaar gereël, waarby die skool en die gemeente die winste deel.

Die “Schulacker”, ʼn stuk grond, wat deur Victor Hesse in 1981 aan die skool beskikbaar gestel is, word deur boere bewerk. Afhangend van die weer, is dit ʼn goeie finansiële inspuiting vir die skool.

Sedert 1982 reël ʼn groep bekwame jong egpare die “Kroondal Karneval” ten gunste van die skool. Ook die ouetehuis Altkroondal kry ʼn gedeelte van die wins. Dit is intussen die grootste bron van inkomste vir die skool. Ander instansies soos bv. die Olthaver Trust gee ook donasies.

Toekomsgerig

Die dissipline en werksetiek, wat ons skoliere op ‘n jong ouderdom leer, werp vrug af in later jare, wanneer hulle as verantwoordelike, jong volwassenes die wêreld betree. Oudskoliere van die Deutsche Schule Kroondal styg akademies uit in die hoërskool en op universiteit. Dit dien as ʼn bewys van die gehalte onderrig, wat hulle aan die Deutsche Schule Kroondal ontvang het. Verskeie oudskoliere is as prefekte verkies, het uitmuntende prestasies behaal en is as Dux-leerlinge in hul hoërskool jare vereer. Ander het voortgegaan met hul sukses en kwalifiseer as lektore en professore aan universiteite en kenners en spesialiste in hul veld van studie op verskeie terreine.

Ons ryk geskiedenis laat ‘n erfenis, waarop ons inderdaad kan trots wees.

Ons erfenis, ons trots.